Chinese kuns

Chinese kuns is beeldende kunste wat, hetsy oud of modern, ontstaan in of word beoefen in China of deur Chinese kunstenaars. Die Chinese kuns in Republiek China (Taiwan) en die van oorsese Chinese kan kan ook as deel van Chinese kuns beskou word waar dit gebaseer is op Chinese erfenis of Chinese kultuur.

Van omstreeks 2000 v. C. het die Chinese kuns 'n hoe peil gehandhaaf. Die oudste kunsvoorwerpe wat bewaar gebly het, dateer uit die Shang-dinastie (1766 -1122 v. C.). Met die koms van die Boeddhisme in die 1e eeu n.C. het die Chinese kuns onder invloed van die Boeddhistiese kuns gekom, en op sy beurt het China weer 'n stempel gedruk op die kuns van Japan en Korea. Chinese porselein het baie beroemd geword en is ook baie nagemaak in Europa. Gedurende die 19de eeu is die invloed van die Westerse kuns in 'n groot mate gesien as 'n middel om die arbeiders op te voed, veral ten opsigte van die ideale van die revolusie.

China en Europa het eeue lank twee aparte kultuurgebiede gevorm en elkeen het afsonderlik bestaan, onbekend met mekaar se tradisies, geskiedenis en kuns. Dit was eers onder die Mongoolse Yuan-dinastie (1271-1368) dat enkele Europeërs tot die Chinese Keiserryk deurgedring het. Die bekendste naam in hierdie verband is dié van Marco Polo (1254-1324), 'n koopman van Venesië. Daar het egter geen kulturele uitruiling of nadere kontak plaasgevind nie.

Eers nadat die seeroete na die Ooste in die 16de eeu ontdek is, het daar nouer bande tussen China en die Weste gekom en die Chinese kunsvoorwerpe Europa in toenemende getalle bereik. Gedurende die 17de eeu het dit gegroei tot die uitvoer van groot hoeveelhede porselein. Tot in die tweede helfte van die 19de eeu was lakwerk en porselein van die Ming-dinastie (1368-1636) en die van Qing-dinastie (1644-1912) die enigste kunsvoorwerpe wat aan die Westerse versamelaars bekend was. Chinese kuns het nie op alle terreine dieselfde hoogtes as byvoorbeeld hulle pottebakkerswerk en porselein bereik nie, maar dit het 'n tipiese en besondere karakter wat oor die hele wêreld bekend is en waardeer word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search